daar is orde in my chaos
maar daar skuil trane agter my oë
in die holtes van my hart
vorm daar damme
wat kaapstad sal vloed
in die kreukels in my brein
stroom daar reviere
wat namibië sal verstom

daar is orde in my chaos
maar my chaos
neem oor
en dit versmoor die dinge waarin ek orde vind
maar dit versmoor nie Jou nie
Jy bly staan
Jy glimlag vir my onder die lig van die stere
onder die gloei van die maan
kyk Jy na my en laat my weet
dat alhoewel die aarde groot is
en die heelal ewig groei
sal Jy my nie vergeet:
my trane maak saak
want dit sal die grond onder ons voete voed
dit is waarvoor ons heel jaar gewag het
hierdie chaotiese vloed

huil dit uit,
my kind,
het my ma gereeld gese
en nou is dit sy wat dae lank
in die bed bly le
skryf dit uit my kind
het my afrikaans onderwyseres
immer gepreek
en nou is dit my hart
wat onder die druk van my vingers
op hierdie sleutels
wil-wil wil breek.

Advertisements